Goeie môre. Hoe gaan dit? Dis fantasties sover, of hoe?
Die hele ding het my stomgeslaan.
Eintlik is ek oppad. (Gelag)
Daar was drie temas sover, of hoe,
wat deur die konferensie loop, wat relevant is
vir waaroor ek wil praat.
Een is die ongelooflike bewyse van menslike kreatiwiteit
in al die aanbiedings wat ons gesien het
en in al die mense hier. Net die blote verskeidenheid daarvan
en die omvang daarvan. Die tweede is dat
dit ons op ’n plek gesit het waar ons geen idee het wat gaan gebeur nie,
ten opsigte van die toekoms. Geen idee
hoe dinge dalk kan verloop nie.
Ek het ’n belang by opvoedkunde --
eintlik, wat ek vind is dat almal ’n belang by opvoedkunde het.
Het julle nie? Ek vind dit baie interessant.
As jy by ’n ete is, en jy sê
jy werk in opvoedkunde --
eintlik, om die waarheid te sê, is jy nie gereeld by etes as jy in opvoedkunde werk nie.
(Gelag) Jy word nie genooi nie.
En jy word nooit teruggenooi nie, snaaks genoeg. Dis vir my vreemd.
Maar as jy is, en jy sê vir iemand,
jy weet, hulle sê: "Wat doen jy vir ’n lewe?"
en jy sê jy werk in opvoedkunde,
kan jy sien hoe die bloed uit hulle gesig vloei. Hulle's soos:
"Aggenee," jy weet, "Hoekom ek? My een aand uit hierdie hele week." (Gelag)
Maar as jy iemand vra oor hulle opvoeding,
druk hulle jou in ’n hoek vas. Want dis een van daai dinge
wat mense na aan die hart lê, is ek reg?
Soos geloof, en geld en ander dinge.
Ek het ’n groot belang by opvoedkunde en ek dink ons almal het.
Ons het 'n groot persoonlike belang daarby,
deels omdat dit opvoeding is wat veronderstel is om
ons in hierdie toekoms wat ons nie kan begryp nie in te neem.
As jy daaroor dink, kinders wat hierdie jaar skool begin
tree af in 2065. Niemand het ’n idee --
ten spyte van al die kennis wat die laaste vier dae hier op vertoon was --
hoe die wêreld gaan lyk
oor vyf jaar nie. En tog is ons veronderstel
om hulle daarvoor op te voed. So die onvoorspelbaarheid, dink ek,
is ongelooflik.
En die derde deel hiervan is dat
ons almal nietemin saamgestem het oor die
werklik buitengewone kapasiteite wat kinders het --
hulle kapasiteite vir innovasie. Ek bedoel, Sirena gisteraand was ongelooflik,
of hoe? Net om te sien wat sy kan doen.
En sy's uitsonderlik, maar ek dink nie sy's, soos hulle sou sê,
uitsonderlik in die geheel van kindwees nie.
Wat ’n mens daar het is ’n persoon van ongelooflike toewyding
wat ’n talent gevind het. En ek voer aan dat
alle kinders geweldige talente het.
En ons vermors dit, nogal meedoënloos.
So ek wil praat oor opvoedkunde en
ek wil praat oor kreatiwiteit. Ek voer aan dat
kreatiwiteit nou so belangrik soos geletterheid in opvoeding is
en dat ons dit dieselfde status moet toeken.
(Applous) Dankie. Dit was dit, terloops.
Baie dankie. (Applous) So, nog 15 minute.
Wel, ek is gebore... nee. (Gelag)
Ek het onlangs ’n goeie storie gehoor -- ek geniet om dit te vertel --
van ’n klein dogtertjie in 'n tekenklas. Sy was ses
en sy was agter in die klas, aan die teken,
en die juffrou het gesê die dogtertjie het omtrent nooit
aandag geskenk nie, maar in hierdie tekenklas het sy.
Die juffrou was gefassineerd en sy het na haar toe gegaan
en gesê: "Wat teken jy?"
En die dogtertjie het gesê: "Ek teken ’n prentjie van God."
En die juffrou het gesê: "Maar niemand weet hoe God lyk nie."
En die dogtertjie sê toe: "Hulle sal nou-nou."
(Gelag)
Toe my seun vier was in Engeland --
eintlik was hy oral vier, om eerlik te wees. (Gelag)
Strenggesproke, waarookal hy gegaan het, was hy vier daai jaar.
Hy was in die Kersspel.
Onthou julle die storie? Nee, dit was groot.
Dit was ’n groot storie. Mel Gibson het die opvolg gedoen.
Julle't dit dalk gesien: "Kersspel II." Maar James het die rol van Josef gekry,
en ons was in ons noppies daaroor.
Ons het dit as een van die hoofrolle beskou.
Ons het die plek vol agente met T-hempde gehad:
"James Robinson IS Josef!" (Gelag)
Hy hoef nie te gepraat het nie, maar julle ken die deel
waar die drie wyse manne inkom. Hulle bring geskenke,
en hulle bring goud, wierook (frankincense) en mirre.
Dit het rêrig gebeur. Ons sit toe daar
en ek dink hulle't net uit beurt uit gegaan,
want ons het na die tyd met die seuntjie gepraat en gesê:
"Was jy OK daarmee?" En hy't gesê: "Ja, hoekom? Was dit verkeerd?"
Hulle't net geruil, dit was dit.
In elk geval, die drie seuntjies kom in --
vierjariges met vatdoeke om hulle koppe --
en hulle sit hierdie bokse neer,
en die eerste seuntjie sê: "Ek bring vir U goud."
En die tweede een sê: "Ek bring vir U mirre."
En die derde een sê: "Frank sent this." (Gelag)
Wat hierdie goed in gemeen het, is dat kinders ’n kans sal vat.
As hulle nie weet nie, sal hulle probeer.
Is ek reg? Hulle's nie bang om verkeerd te wees nie.
Nou, ek bedoel nie dat verkeerd wees en kreatief wees dieselfde ding is nie.
Wat ons wel weet is,
as jy nie bereid is om verkeerd te wees nie,
sal jy nooit iets oorspronklik uitdink nie.
As jy nie bereid is om verkeerd te wees nie. En teen die tyd wat hulle grootmense is,
het meeste kinders daai kapasiteit verloor.
Hulle het bang geword om verkeerd te wees.
En ons bestuur ons maatskappye so, terloops.
Ons stigmatiseer foute. En nou bedryf ons
nasionale opvoedingstelsels waar
foute die ergste ding is wat ’n mens kan maak.
En die gevolg is dat ons mense uit hulle kreatiewe
kapasiteite uit opvoed. Picasso het dit gesê.
Hy't gesê dat alle kinders gebore kunstenaars is.
Die probleem is om een te bly soos ons grootword. Ek glo dit vas:
ons groei nie in kreatiwiteit in nie,
ons groei uit dit uit. Of eerder, ons word uit dit uit opgevoed.
So hoekom is dit so?
Ek het tot vyf jaar gelede op Stratford-op-Avon gewoon.
Ons het van Stratford na Los Angeles getrek.
So julle kan julle indink wat ’n seepgladde oorgang dit was.
(Gelag) Eintlik,
het ons in ’n plek genaamd Snitterfield gewoon,
net buite Stratford, en dit is waar
Shakespeare se pa gebore is. Is julle getref deur ’n nuwe gedagte? Ek is.
’n Mens dink nie aan Shakespeare as iemand met ’n pa nie, dink mens?
Dink mens? Want ’n mens dink nie aan
Shakespeare as ’n kind nie, of hoe?
Shakespeare op sewe? Ek't nooit daaraan gedink nie. Ek bedoel, hy was
sewe op een of ander stadium. Hy was in
iemand se Engelse klas, ne? Hoe irriterend moet dit nie wees nie?
(Gelag) "Moet harder probeer." Word bed toe gestuur deur sy pa, jy weet,
aan Shakespeare: "Gaan slaap, nou,"
aan William Shakespeare: "en sit neer die potlood.
En hou op om so te praat. Dit verwar almal."
(Gelag)
In elk geval, ons't getrek van Statford na Los Angeles,
en ek wil net iets sê oor die oorgang, eintlik.
My seun wou nie kom nie.
Ek het twee kinders. Hy's nou 21; my dogter is 16.
Hy wou nie Los Angeles toe kom nie. Hy was mal daaroor,
maar hy't ’n meisie in Engeland gehad. Die liefde van sy lewe, Sarah.
Hy't haar al ’n maand geken.
Maar sien, hulle't al hulle vierde herdenking gevier,
want dis ’n lang tyd as jy 16 is.
In elk geval, hy was rêrig ontsteld op die vliegtuig,
en hy't gesê: "Ek sal nooit weer ’n meisie soos Sarah kry nie."
Ons was nogals opgemaak daaroor, om die waarheid te sê,
want sy was die hoofrede hoekom ons landuit is.
(Gelag)
Maar iets tref jou wanneer jy Amerika toe trek
en wanneer jy om die wêreld reis:
Elke opvoedingstelsel op aarde het dieselfde hierargie van vakke.
Elke een. Maak nie saak waar jy gaan nie.
’n Mens sou dink dis anders, maar dit is nie.
Heel bo is wiskunde en tale,
dan die wysbegeerte, en heel onder is die kunste.
Orals op aarde.
En in min of meer elke stelsel
is daar ook ’n hierargie binne die kunste.
Kuns en musiek kry gewoonlik ’n hoër status in skole
as drama en dans. Daar is nie ’n opvoedingstelsel op die planeet
wat dans elke dag vir kinders leer
soos ons vir hulle wiskunde leer nie. Hoekom?
Hoekom nie? Ek dink dis nogal belangrik.
Ek dink wiskunde is belangrik, maar dans is ook.
Kinders dans heeltyd as hulle mag, ons almal doen dit.
Ons het almal liggame, of hoe? Het ek ’n vergadering misgeloop?
(Gelag) Inderwaarheid, wat gebeur is,
soos kinders grootword, begin ons hulle geleidelik
van die middellyf af boontoe opvoed. En dan fokus ons op hulle koppe.
En effens na een kant toe.
As jy opvoeding sou besoek, as 'n ruimtewese,
en sê: "Waarvoor is dit, openbare opvoeding?"
dink ek jy sou tot die gevolgtrekking moes kom -- as jy kyk na die uitset,
wie behaal werklik sukses hierdeur,
wie doen alles wat hulle moet,
wie kry al die "brownie points", wie is die wenners --
dink ek jy sou tot die gevolgtrekking moes kom dat die hele doel van openbare opvoeding
regoor die wêreld
is om universiteitsprofessors te lewer. Of hoe?
Hulle is die mense wat bo uitkom.
En ek was een, so vat so. (Gelag)
En ek hou van universiteitsprofessors, maar julle weet,
ons moet hulle nie as die hoogtepunt van alle menslike prestasie voorhou nie.
Hulle is net ’n vorm van lewe,
nog ’n vorm van lewe. Maar hulle's nogal vreemd,
en ek sê dit uit toegeneentheid vir hulle.
Daar's iets vreemd omtrent professors in my ervaring --
nie almal van hulle nie, maar tipies -- lewe hulle in hul koppe.
Hulle lewe daar bo, en effens na een kant toe.
Hulle's ontliggaam, julle weet, op ’n soortvan letterlike manier.
Hulle kyk na hul liggame
as ’n vervoermiddel vir hul koppe, of hoe?
(Gelag) Dis ’n manier om hul koppe by vergaderings te kry.
As julle ware bewys soek van buiteliggaamlike ervarings,
terloops, besoek ’n residensiële konferensie
van senior akademici,
en maak ’n draai by die sokkie op die laaste aand.
(Gelag) En daar sal julle dit sien -- volwasse mans en vroue
wat ritmeloos wriemel, terwyl hulle wag
vir dit om klaar te maak sodat hulle tuis ’n artikel daaroor kan gaan skryf.
Nou, ons opvoedingstelsel berus op die idee van akademiese vaardigheid.
En daar's ’n rede daarvoor.
Die hele stelsel is uitgedink -- regoor die wêreld, was daar, in werklikheid,
geen openbare opvoedingstelsels voor die 19de eeu nie.
Hulle het almal tot wording gekom
om in die behoeftes van industrialisme te voorsien.
So die hierargie is gewortel in twee idees.
Een, dat die mees nuttige vakke vir werk
heel bo is. So op skool is jy waarskynlik goedgunstiglik van
goed waarvan jy gehou het weggestuur,
op grond daarvan dat jy nooit
’n werk daardeur sou kry nie. Is dit reg?
Moenie musiek neem nie, jy gaan nie ’n musikant word nie;
moenie kuns neem nie, jy gaan nie ’n kunstenaar word nie.
Goedgunstige advies -- nou, uiters verkeerd. Die hele wêreld
is verswelg in ’n rewolusie.
En die tweede is akademiese vaardigheid, wat werklik ons idee
van intelligensie oorskadu,
omdat die universiteite die stelsel na hul eie beeld ontwerp het.
As ’n mens daaroor dink, die hele stelsel
van openbare opvoeding regoor die wêreld is ’n uitgerekte proses
van universiteitstoelating.
En die gevolg is dat baie hoogs talentvolle,
briljante, kreatiewe mense dink dat hulle nie is nie,
omdat die ding waarin hulle goed was op skool
nie waardeer is nie, of selfs gestigmatiseer is.
En ek dink nie ons kan bekostig om so voort te gaan nie.
In die volgende 30 jaar, volgens UNESCO,
gaan meer mense wêreldwyd deur
opvoeding gradueer as sedert die begin van geskiedenis.
Meer mense, en dis die kombinasie
van al die dinge waaroor ons gepraat het --
tegnologie en hoe dit werk getransformeer het, en demografie
en die massiewe bevolkingsontploffing.
Skielik is grade niks werd nie. Nie waar nie?
Toe ek ’n student was, as jy ’n graad gehad het, het jy ’n werk gehad.
As jy nie ’n werk gehad het nie wou jy nie een hê nie.
En ek wou nie een hê nie, om die waarheid te sê. (Gelag)
Maar deesdae is kinders met grade gereeld
oppad huis toe om verder te gaan TV speletjies speel,
omdat jy ’n MA nodig het waar die vorige posisie ’n BA vereis het,
en jy nou ’n PhD benodig vir die ander.
Dis ’n proses van akademiese inflasie.
En dit dui daarop dat die hele struktuur van opvoeding
besig is om onder ons voete te skuif. Ons moet drasties ons
siening van intelligensie hersien.
Ons weet drie dinge omtrent intelligensie.
Een, dis divers. Ons dink oor die wêreld op al die maniere
wat ons dit ervaar. Ons dink visueel,
ons dink in klank, ons dink kineties.
Ons dink in abstrakte terme, ons dink in beweging.
Tweedens, intelligensie is dinamies.
As ’n mens kyk na die interaksies van ’n menslike brein, soos ons gister
tydens heelwat aanbiedings gehoor het,
is intelligensie wonderlik interaktief.
Die brein is nie opgedeel in kompartemente nie.
Inderwaarheid, is kreatiwiteit -- wat ek definieer as die proses
van oorspronklike idees met waarde hê --
gewoonlik iets wat gebeur deur die interaksie
van verskillende dissiplinêre maniere van dinge sien.
Die brein is doelbewus -- terloops,
daar is ’n senuweebundel wat die twee helftes van die brein verbind,
genaamd die corpus callosum. Dis dikker by vrouens.
Om aan te sluit by Helen gister, dink ek
dis waarskynlik hoekom vrouens beter is met "multi-tasking".
Want julle is mos, ne?
Daar's baie navorsing, maar ek weet dit uit persoonlike ervaring.
As my vrou besig is om te kook by die huis --
wat nie baie is nie, dankie tog. (Gelag)
Maar julle weet, sy's besig -- nee, sy's goed met sommige dinge --
maar as sy kook, julle weet,
hanteer sy foonoproepe,
praat sy met die kinders, verf sy die plafon.
Sy doen 'n oophart-operasie hier.
As ek kook, is die deur toe, die kinders is uit,
die foon is van die mikkie af, as sy inkom raak ek geïrriteerd.
Ek sê: "Terry, asseblief, ek probeer ’n eier bak hier. Gee my ’n kans." (Gelag)
Eintlik ken julle daai ou filosofiese ding,
as ’n boom in die bos val en niemand hoor dit nie,
het dit gebeur? Onthou julle daai ou sê-ding?
Ek het onlangs ’n goeie T-hemp gesien wat gesê het: "As ’n man homself uitspreek
in ’n bos, en geen vrou hoor hom nie,
is hy steeds verkeerd?" (Gelag)
En die derde ding omtrent intelligensie is,
dis spesifiek. Ek is besig met ’n nuwe boek op die oomblik,
met die naam "Epiphany," wat gebaseer is op ’n reeks
onderhoude met mense oor hoe hulle hul talent
ontdek het. Ek vind hoe mense daar uitgekom het fassinerend.
Dit is aangespoor deur ’n gesprek wat ek gehad het
met ’n wonderlike vrou wat meeste mense miskien
nog nooit van gehoor het nie, haar naam is Gillian Lynne,
al van haar gehoor? Sommige het. Sy's ’n choreograaf
en almal ken haar werk.
Sy het "Cats," en "Phantom of the Opera" gedoen.
Sy's wonderlik. Ek was van te vore op die raad van die Koninklike Ballet, in Engeland,
soos julle kan sien.
In elk geval, Gillian en ek het eendag saam geëet en ek sê toe:
"Gillian, hoe het jy ’n danser geword?" En sy sê toe
dit was interessant, toe sy op skool was,
was sy rêrig hopeloos. En die skool, in die 30's,
skryf toe vir haar ouers en sê: "Ons dink
Gillian het ’n leerprobleem." Sy kon nie konsentreer nie,
sy het gevroetel. Ek dink deesdae sou hulle sê
sy't aandagafleibaarheid. Sou julle nie ook nie? Maar hierdie was die 1930's,
en aandagafleibaarheid was nog nie toe al uitgedink nie.
Dit was nie ’n beskikbare kwaal nie. (Gelag)
Mense was nie bewus hulle kon daaraan ly nie.
In elk geval, sy gaan sien toe hierdie spesialis. So, hierdie eikepaneel kamer,
en sy's daar saam met haar ma,
en sy's ingelei en sy't op ’n stoel op die punt gesit,
en op haar hande gesit vir 20 minute terwyl
hierdie man met haar ma gepraat het oor al
die probleme wat Gillian by die skool het. En na dit --
want sien sy het ander ontwrig,
haar huiswerk was altyd laat, ensovoorts,
klein kind van agt -- op die ou end, gaan sit die dokter
langs Gillian en sê: "Gillian,
ek't nou geluister na al die dinge wat jou ma
my vertel het, en ek moet nou privaat met haar gesels."
Hy sê toe: "Wag hier, ons is nou terug, ons sal nie lank wees nie."
en hulle't haar daar gelos.
Maar soos hulle uitgegaan het, het hy die radio wat op sy
lessenaar was aangesit. En toe hulle
uit die kamer is, sê hy vir haar ma,
"Hou haar net dop." En die oomblik toe hulle uit die kamer is,
sê sy, was sy op haar voete, besig om saam met die musiek te beweeg.
En hulle't vir ’n paar minute gekyk
en hy't na haar ma gedraai en gesê:
"Mev. Lynne, Gillian is nie siek nie, sy's 'n danser.
Neem haar na 'n dansskool."
Ek sê toe: "Wat het gebeur?"
En sy sê: "Sy het. Ek kannie vir jou sê hoe wonderlik dit was nie.
Ons't in hierdie kamer ingeloop en dit was vol
mense soos ek. Mense wat nie kon stilsit nie.
Mense wat moes beweeg om te dink." Wat moes beweeg om te dink.
Hulle het ballet gedoen, tap gedoen, jazz gedoen,
hulle het moderne en kontemporêre dans gedoen.
Sy het eindelik vir die Koninklike Ballet oudisie gedoen,
sy het ’n solois geword, sy het ’n wonderlike loopbaan gehad
by die Koninklike Ballet. Op die ou end het sy gegradueer
van die Koninklike Balletskool en
haar eie geselskap gestig -- die Gillian Lynne Dance Company --
en Andrew Lloyd Weber ontmoet. Sy was al vir van die mees
suksesvolle musikale teater produksies in die
geskiedenis verantwoordelik, sy't al aan miljoene plesier gegee,
en sy's ’n multi-millionêr. Iemand anders
sou haar dalk op medikasie gesit het en vir haar gesê het
om te kalmeer.
Nou, ek dink ... (Applous) Waarop dit neerkom is dit:
Al Gore het die ander aand gepraat
oor ekologie en die rewolusie wat ontketen is deur Rachel Carson.
Ek glo ons enigste hoop vir die toekoms
is om ’n nuwe idee van menslike ekologie aan te neem,
een waarin ons begin om ons konsep
van die rykdom van menslike kapasiteit te hersien.
Ons opvoedingstelsel het ons breine gemyn op die manier
wat ons die aarde stroopmyn: vir ’n spesifieke kommoditeit.
En vir die toekoms, sal dit ons nie dien nie.
Ons moet die fundamentele beginsels waarmee
ons ons kinders opvoed heroorweeg. Daar was
’n wonderlike aanhaling van Jonas Salk, wat gesê het: "As al die insekte
van die aarde af sou verdwyn,
sou alle lewe op aarde binne 50 jaar uitsterf.
As al die mense van die aarde af sou verdwyn,
sou alle vorms van lewe binne 50 jaar floreer."
En hy's reg.
Wat TED vier is die skat van die menselike verbeeldingsin.
Ons moet nou versigtig wees dat ons dit met wysheid
gebruik, en dat ons van die senarios vermy
senarios waaroor ons gepraat het. En die enigste manier
wat ons dit kan doen is deur ons kreatiewe kapasiteite
te sien vir die rykdom wat hulle is, en ons kinders
te sien vir die hoop wat hulle is. En ons opdrag
is om hul hele wese op te voed, sodat hulle hierdie toekoms kan ingaan.
Terloops -- ons sal dalk nie hierdie toekoms sien nie,
maar hulle sal. En ons plig is om hulle
te help om iets daarvan te maak. Baie dankie.